Draai – by Wilma
LATEST BLOG
9 August 2023
Trooi sit en beloer die wêreld onder deur haar bont doek…dis moeilik want die wind waai stof vandag, en haar alreeds seer oog is krapperig. Sy het die vorige aand hard teen die grond geval. Die kinners en daai wind-dronk man slaap nog vas. Vandag is ‘n vakansiedag vir almal, maar dis eintlik Vrouedag. ‘n Dag vir vroue om te vier!!
Iewers innie lokasie reël ‘n politieke party ‘n ding om Vrouedag te vier. Daar gaan baie kos wees het sy gehoor, so sy moet dalk ‘n draai daar gaan maak. Dalk ‘n ice cream bakkie saamvat om die kos vir die kleintjies in te pak om later te eet. Trooi gee nie om watter politieke party dit reël nie, watter bekendes daar gaan praat of wie gaan optree nie. Dit beteken in elk geval niks vir haar nie. Dit gebeur elke jaar. Elke jaar gebeur daar niks. Sy gaan net vir die kos dan gaan sy omdraai.
Sy sal net dunpap eet vandag, dis genoeg vir haar. Trooi voel naar…en seer. Alles is seer…haar kop, haar lyf…haar hart.
Sy draai haar gesig na die yl sonnetjjie sodat die kouerige wind teen die xhons kombersie om haar dun lyf waai. Sy let op dat haar pinkievinger potblou en geswel is, seker soos Jakob die die vorige aand geruk het toe hy sy frustrasies en kwaadgeit op haar kom uithaal het. Hoe sal sy kan knie met die seer vinger, wonder Trooi.
Sy wens sy kan haar rug draai teen die die lewe sodat die wind haar van agter kan kry en nie van voor af soos nog haar hele lewe lank nie. Dis omdat ander mens nie weet wanneer om sy draai te kry nie, dink Trooi.