
Draai
Trooi sit en beloer die wêreld onder deur haar bont doek…dis moeilik want die wind waai stof vandag, en haar alreeds seer oog is krapperig. Sy het die vorige aand hard teen die grond geval. Die kinners en daai wind-dronk man slaap nog vas. Vandag is ‘n vakansiedag vir almal, maar dis eintlik Vrouedag. ‘n Dag vir vroue om te vier!!
Iewers innie lokasie reël ‘n politieke party ‘n ding om Vrouedag te vier. Daar gaan baie kos wees het sy gehoor, so sy moet dalk ‘n draai daar gaan maak. Dalk ‘n ice cream bakkie saamvat om die kos vir die kleintjies in te pak om later te eet. Trooi gee nie om watter politieke party dit reël nie, watter bekendes daar gaan praat of wie gaan optree nie. Dit beteken in elk geval niks vir haar nie. Dit gebeur elke jaar. Elke jaar gebeur daar niks. Sy gaan net vir die kos dan gaan sy omdraai.
Sy sal net dunpap eet vandag, dis genoeg vir haar. Trooi voel naar…en seer. Alles is seer…haar kop, haar lyf…haar hart.
Sy draai haar gesig na die yl sonnetjjie sodat die kouerige wind teen die xhons kombersie om haar dun lyf waai. Sy let op dat haar pinkievinger potblou en geswel is, seker soos Jakob die die vorige aand geruk het toe hy sy frustrasies en kwaadgeit op haar kom uithaal het. Hoe sal sy kan knie met die seer vinger, wonder Trooi.
Sy wens sy kan haar rug draai teen die die lewe sodat die wind haar van agter kan kry en nie van voor af soos nog haar hele lewe lank nie. Dis omdat ander mens nie weet wanneer om sy draai te kry nie, dink Trooi.
As haar ma haar draai betyds kon kry en wegstap uit ‘n mislike huwelik, so haar lewe dalk ook anders uitgedraai het. As haar pa sy draai by die smokkelhuis kon kry sou sy en hulle lewe ook anders uitgedraai het. As sy betyds haar wang gedraai het die eerste keer toe Jakob haar gedwing het om hom te soen, sou haar lewe dalk ook nou anders gewees het.
Mens moet weet wanneer om jou draai te kry. Soos die lewe sy draaie gooi, moet jy jouself ken om te weet:” Nou is ek by die omdraai punt van my lewe…hier moet ek plan maak”.
Dis daai laaste slukkie, daai laaste skyf, daai laaste lyf lus is wat mens innie afgrond ingooi. Want na daai kan niemand meer maklik omdraai nie. Dan moet jy al jou kragte inspan om uit daai gat te kruip en die regte pad te kry, of bly lê daar in daai gat en vrot! As jy uit daai grot wil kruip, is daar baie wat jou sal terugtrek en seker maak jy weet daars nie meer ‘n omdraaikans nie.
Trooi dink wie saam met haar na die Vroueding toe kan gaan. Dalk Koekie, maar sy sal nie weet wanneer om haar draai te kry nie sy ken te veel mense. Felicia, nee daai vrou draai te lank om klaar te maak. Dalk Mavis? Mavis is te mensbehoeftig en draai die heeltyd romdom jou soos ‘n by om ‘n blom. Miskien moet sy net alleen gaan?
Jakop steek sy kop by die huis se deur uit en sy ruik hom van ver af. Wat sitte sit jy so innie son, skree-vra hy, klaar kwaad virrie lewe. Kom maak vrete vir my! En koop ‘n bier ek is babelas!
Trooi sit en smeer haar seer vinger saggies terwyl die trane uit haar seer oog rol. Haar hart is seer as sy rondom haar kyk, maar ‘n anner gevoel as seer wat sy nie n naam voor hettie, kry sy in haar binneste as sy na Jakob kyk…hy wat nooit sy draai gekry het innie lewe nie en haar daarvoor laat boet. Sy wens partykeer sy kan hom doodkyk!
Die vyf kinners waarvoor sy so alleen moet sorg is omdat Jakob nie sy draai betyds by haar lyf kon kry nie, haar seer lyf is omdat hy nie die vorige aand sy draai by die smokkelhuis kon kry nie, en haar seer hart is omdat sy nie destyds weggedraai het van hom af nie.
Partykeer, dink Trooi, moet jy mense help om om te draai…al is dit ook naby die dood. Sy sal alleen gaan om die kos by die Vrouedag gaan haal en vir hom kom gee…iewers onder innie kas is daar mos nog ‘n bietjie miergif. Trooi is op!